Wêreldwye voedselonsekerheid vererger, het pres. Cyril Ramaphosa op die G20-byeenkoms in Bali, Indonesië, aan wêreldleiers gesê.
In Afrika en baie ander dele van die ontwikkelende wêreld ly miljoene mense honger, en volgens hom is daar verskeie redes daarvoor.
“Die herstel ná die Covid-19-pandemie was ongelyk en onvoldoende. Klimaatsverandering het die frekwensie en die erns van droogtes, vloede en veldbrande verhoog, wat landbouproduksie en -voorsiening ontwrig het.”