Die Suid-Afrikaanse regering sê hy veroordeel die staatsgreep in Burkina Faso nadat die land se president ná ’n muitery die naweek deur soldate gevange geneem is en aangehou word.
“Die Suid-Afrikaanse regering is dit eens met die standpunt van die Ekonomiese Gemeenskap van Wes-Afrika-state (Ecowas) dat die soldate na hul kasernes moet terugkeer en dialoog met die owerhede moet gebruik om alle probleme op te los,” sê die regering in ’n verklaring.
“Daar kan nooit ’n militêre oplossing vir kwessies van hierdie aard wees nie. Dialoog en onderhandeling is die enigste manier om konflik op te los en blywende ooreenkomste te bereik. Die verlies aan lewens moet tot elke prys vermy word en alle belanghebbendes moet hulle tot dialoog verbind,” lui die verklaring.