Navorsers het ’n gerekenariseerde tomografie- (CT) skandering gebruik om ’n ongeskonde mummie van ’n 2 300 jaar oue Egiptiese tienerseun “digitaal oop te maak”.
Die bevinding is Dinsdag vir die eerste keer in die joernaal Frontiers in Medicine gepubliseer, berig Popular Science.com.
Die mummie, wat in wetenskaplike kringe as die “Goue Seun” bekend staan, is in 1916 in ’n begraafplaas in Nag el-Hassay in die suide van Egipte gevind. Die begraafplaas is tussen omstreeks 332 v.C. en 30 v.C. gebruik. Die mummie bevat interessante voorbeelde van antieke Egiptiese oortuigings oor lewe ná die dood. Die seun het 49 verskillende amulette gedra om die opstanding van sy liggaam te bevorder. Hy het ook sandale aangehad as ’n simbool van reinheid en daar was varings om sy lyf gedraai.