Minstens vier mense is reeds dood en mense is steeds in die Somaliese hotel vasgekeer wat Al-Sjabaab sedert Sondag aanval.
Hernude geweerskote is Maandag in die omsingelde Villa Rose-hotel in die hoofstad Mogadisjoe gehoor.
Islamitiese militante het Sondag die hotel, wat deur regeringsamptenare gebruik word, met vuurwapens sowel as plofstof aangeval, sê die polisie.
Intussen is 'n parlementêre sitting afgestel wat Maandag sou plaasvind.
Al-Sjabaab, wat bande met Al-Kaïda het, beheer groot dele van die land en het verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar. Spesiale magte het nou beheer oor die situasie oorgeneem.
"Die vegters wat die aanval geloods het, veg steeds in die hotel met die veiligheidsmagte, wat ook die mense in die hotel probeer bevry," het 'n anonieme polisielid aan Reuters gesê.
Die presiese getal mense wat beseer of dood is, is nog onbekend.
Al-Sjabaab wil die regering destabiliseer en sy eie regering vorm wat op die grondslag van 'n ekstreme interpretasie van die Islamitiese reg (sjaria) gebou is.
Luidens ’n verklaring van Al-Sjabaab het die groep die nabygeleë presidensiële paleis geteiken.
“ ’n Groot ontploffing het ons geruk, gevolg deur ’n hewige skietery,” sê Ahmed Abdoellahi, wat naby die toneel woon.