Drie paramedici van die Memphis-brandweer in Amerika en vyf plaaslike polisiebeamptes is reeds afgedank ná die dood op 10 Januarie van ’n 29-jarige swart man wat ernstig beseer is in ’n konfrontasie met die polisie.
Die paramedici is Maandag afgedank nadat ondersoekers bevind het hulle was op die toneel waar Tyre Nichols aangerand en byna 15 minute geboei op die grond gelos is sonder mediese hulp.
Die brandweer sê in ’n verklaring Robert Long en JaMichael Sandridge het nie vasgestel wat Nichols se mediese toestand was toe hulle op 7 Januarie op die toneel aangekom het nie, terwyl lt. Michelle Whitaker, die bestuurder, in haar voertuig gebly het.