Die TV-persoonlikheid en geleentheidsbeplanner Aleit Swanepoel het blykbaar self geld verloor wat hy by die HGG Finansiële Groep van wyle Hendrik Gerryts belê het, maar dis onbekend hoe dit sy sakebelange geraak het.
Swanepoel (47) is Maandag dood in sy huis in Somerset-Wes gevind.
The Aleit Group het vroeër in ’n verklaring gesê Swanepoel “is Sondagaand in sy slaap oorlede”. Geen verdere besonderhede is toe bekend gemaak nie, maar ’n woordvoerder vir die groep het Donderdag by navraag aan Netwerk24 laat blyk Swanepoel is aan ’n hartaanval dood en dat die begrafnisreëlings teen die middag afgehandel sal wees.