Kardiovaskulêre siektes – hartaanvalle en beroertes – gaan in die volgende 10 tot 15 jaar van die grootste oorsake van sterftes in Afrika suid van die Sahara, en trouens die res van die wêreld, word. Daarom moet gesondheidsdienste nou al gestruktureer word vir voorkomende optrede.
Só sê prof. Stephen Brown (63), hoof van die afdeling pediatriese kardiologie van die Universitas Akademiese Hospitaal in Bloemfontein.
Dié spesialis, en ’n voormalige Bloemfonteiner van die Jaar, het ’n groot passie vir veral pediatriese (kinder-) kardiologie en sy kardiovaskulêre navorsing by die Robert W.M. Frater Kardiovaskulêre Navorsingsentrum van die Universiteit van die Vrystaat (UV).