Lyfwagte, diamante en ’n huis van R16 miljoen – dit was die resep vir Donderdagaand se episode van Die real housewives van Pretoria op kykNET.
Die langverwagte “diamond nail day” het in dié episode aangebreek, en soos Peet Viljoen beloof het, het hy twee lyfwagte by hom gehad toe hy in sy rooi Ferrari met die boksie diamante by sy huis aankom.
Die diamante was bestem om “geïnstalleer” te word in die naels van die vroue wat in die program verskyn. Peet het sy dramatiese opwagting gemaak toe die deure oopswaai en hy, vergesel van twee mans in swart, die diamante op die tafel voor die vroue neersit.