Haar pa is reeds uit die hospitaal ontslaan ná die ongeluk Dinsdag waarin haar ma, Amelia, dood is. Haar dogter is ook tuis, maar haar 11-jarige seun, Kolya, is nog in ’n bestendige toestand in die intensiewesorgeenheid, het Varenka Paschke Saterdag gesê.
Sy het gepraat nadat haar 75-jarige ma, een van oudpres. PW Botha se vyf kinders, Dinsdagmiddag dood is. Sy was saam met haar man, Uwe (78), en twee kleinkinders, die seun en dogter van Varenka en haar man, die sanger Stef Bos, op pad terug huis toe nadat hulle hul dogter Sigrun se as in Bettysbaai gestrooi het.
Die 48-jarige Sigrun (Ster) is op 5 Januarie aan ’n bloedklont in haar long dood. Sy was blind en ’n befaamde musikus.