Die onderwys-egpaar Jason en Charlize Hanslo van Bellville is so passievol oor reis dat hulle die wêreld hul kinders se klaskamer gemaak het. Die afgelope tien jaar het hulle in China, Gaboen, Colombia, Koeweit en Thailand klasgegee en binnekort vertrek hulle en hul drie kinders Rusland toe.
Jason en Charlize het as studente aan die Universiteit van Wes-Kaapland al besluit hulle wil die wêreld vol reis.
“Ons het besluit ons gaan aanhou reis totdat die kinders klaar is met skool. Want hulle kry ’n goeie opvoeding en ons betaal nie daarvoor nie,” sê Charlize uit Thailand oor hul kroos, Ezrah (11), Hannah (4), en die tweejarige Isaiah.