Die teleurstelling was groot toe die Potchefstroomse huiswerker wat deur drie pitbull-honde verskeur is, die afgelope week gehoor het daar kan steeds nie met rekonstruktiewe chirurgie aan haar gesig begin word nie.
Dupuo Kokolosi (47), wie se ore, neus en bolip afgeskeur is in die aanval in Januarie vanjaar, het vroeër gesê haar grootste wens is om weer soos ander mense te lyk. Volgens Patricia Modise, haar dogter, het die wond waar haar neus afgeskeur is, nog nie ten volle genees nie. Sy het Dinsdag gesê haar ma moet op 20 Junie weer terugkeer na die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Soweto, wanneer daar hopelik begin kan word met die rekonstruktiewe chirurgie aan haar gesig.
Diep gate in haar bene moet ook opgevul word met weefsel van elders aan Kokolosi se liggaam. Intussen woon sy by familie in Bloemhof, Noordwes. Volgens Modise is daar ’n moontlikheid dat ’n private hospitaal in KwaZulu-Natal haar behandeling kan oorneem. “Hulle het in die media oor my ma gelees en haar reeds besoek. Ek wag nou om te hoor of hulle haar kan help.”