’n Restaurant in Durban se Browns Drift-weg sê hy reël berading vir sy werknemers wat Donderdagaand gewerk het toe vier gewapende rowers by die restaurant ingestorm en drie klante tydens ’n rooftog gewond het.
Luciano Indrio, bestuurder van die Andreas Italian Cafe, het aan Netwerk24 vertel van die “skokkende gebeure” toe skote in hul familie-restaurant afgevuur is.
“Dit het so kort ná 19:00 gebeur. Ek was besig om een van ons kelners te help om ’n tafel skoon te maak toe die vier mans die plek binnestorm. Skote is afgevuur en ons het almal dadelik op die grond geval.”