Vier van die vyf mans wat aanvanklik Sondag in verband met die moord op die kletsrymer Kiernan (AKA) Forbes en sy vriend Tabello (Tibz) Motsoane vir ondervraging ingeneem is, is Dinsdag onder groot geheimhouding glo van die Kaapstad-Sentraal-polisiekantoor na Durban geneem.
Bronne het Dinsdag gesê ’n konvooi voertuie met KwaZulu-Natalse registrasienommers het kort ná 12:00 by die polisiekantoor in Kaapstad weggery. Die vier mans was in die enkele silwer kombi wat deel is van die konvooi voertuie.
In die kombi was daar gewapende polisiebeamptes verbonde aan Durban se georganiseerde-misdaad-eenheid wat ’n ogie oor die vier, wat geboei is, moet hou. Die bronne het gesê die vier mans is Sondag nadat hulle in hegtenis geneem is na die Kaapstad-Sentraal-polisiekantoor gebring.