Sewe mense is vandeesweek in die Tuinroete en in die Klein-Karoo in hegtenis geneem en dwelms van R100 000 is gekonfiskeer.
Die polisie het Woensdag in ’n deursoekings-en-beslagleggingsoperasie in Ladismith en Zoar in die Klein-Karoo twee mense weens die besit van dwelms en een weens dwelmhandel aangekeer. Daar is op ’n klein hoeveelheid tik, Mandrax-tablette en R7 080 beslag gelê.
Dieselfde polisiebeamptes het later die dag ook twee mense in hegtenis geneem op ’n klag van die besit van dwelms nadat hulle toegeslaan het op plekke in Oudtshoorn waar dwelms verkoop word.