Niemand sal hom van sy grond verjaag nie, sê ’n Noordwes-boer wat die afgelope week saam met sy verloofde aangerand en met enigiets van ’n sambok en wielyster tot ’n warm strykyster gemartel is.
Donderdagoggend, ure ná die marteling, het Chris Barnard (62) van die Koster-omgewing homself uit die hospitaal ontslaan en is hy terug na sy plaas, Windy Valley. “Ek hinkepink maar met ’n kierie rond, maar ons kan nie toelaat dat kriminele ons van ons grond afjaag nie. Ek bly net hier,” sê Barnard.
Hy en sy verloofde, Hesta du Plessis (52), het Woensdag ná aandete op die stoep gesit toe drie gemaskerde mans skielik agter Barnard verskyn. “Hesta het hulle met haar tee gegooi, toe pak ek hulle.”