Twee van die dogters van die vermoorde Van der Berg-egpaar van die Boshof-distrik in die Vrystaat word geteister deur beelde, denke en vrese oor wat hul ouers in hul laaste oomblikke moes deurmaak.
Dít was Donderdag die getuienis van prof. Stephen Walker, professor in sielkunde aan die Universiteit van die Vrystaat, in die hooggeregshof in Bloemfontein nadat hy vroeër met Elizabeth Kruger en Nicolene Pienaar, dogters van die vermoorde egpaar Sakkie (67) en Ina (62) van der Berg, gekonsulteer het.
Die egpaar is op 12 Julie 2019 op die plaas Blouboswes met ’n gesteelde vuurwapen geskiet en van onder meer hul selfone en ’n wit Ford Ranger-bakkie beroof.