Dit was glo ’n loongeskil wat daartoe gelei het dat Albertus Steenkamp Saterdag na bewering ’n werker met sy bakkie omgery het.
Die Hantam-boer, wat in die TV-reeks Boer soek ’n vrou bekend geword het, word in die polisieselle in Calvinia aangehou nadat hy Maandag op sy plaas Perdekloof in hegtenis geneem is.
Hy het Dinsdag vlugtig in die landdroshof in Calvinia op aanklag van poging tot moord verskyn, sê Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG).