Dit gaan onder die omstandighede goed met die egpaar wat Sondagoggend saam met familielede op hul plaas in die Tweespruit-distrik in die Vrystaat deur rowers oorval en beroof is.
Volgens ’n ingeligte “gaan dit oukei” met John Parr en sy vrou, Pam, ná die aanval op hul plaas Yaxham in die Tweespruit-distrik.
Intussen is al vyf verdagtes nou óf dood, óf in polisieaanhouding. Hoewel landbougroepe aanvanklik gesê het drie aanvallers is noodlottig gewond in ’n oor-en-weer-skietery tussen Parr en die aanvallers, sê die polisie net twee aanvallers is op die toneel dood. ’n Derde gewonde man is in hegtenis geneem en Sondag na ’n hospitaal op Ladybrand gebring, maar later na die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein oorgeplaas.