’n Polisiesersant is Maandagmiddag in ’n skietgeveg met ’n groep misdadigers in Marikana in Noordwes doodgeskiet.
Brig. Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder, sê sers. Julia Makgareetsa (36) is in die bolyf geskiet nadat sy en ander polisielede inligting ontvang het oor ’n groep verdagtes in die Rooikoppies-omgewing in Marikana wat moontlik met ernstige geweldsmisdade verbind kan word.
“Toe die verdagtes polisievoertuie gewaar, het hulle op die vlug geslaan. Die polisielede het uit hul voertuie gespring en die verdagtes te voet agternagesit, waarna ’n skietgeveg uitgebreek het. Sers. Makgareetsa is noodlottig in die bolyf geskiet. Die 30-jarige verdagte is gewond en in hegtenis geneem,” sê Mokgwabone.