’n Skoolhoof in KwaZulu-Natal en sy vrou is in hul huis in St. Faiths in KwaZulu-Natal doodgeskiet.
Volgens lt.kol. Nqobile Gwala, polisiewoordvoerder, het gewapende mans die egpaar se huis binnegegaan en sowel die man (55) as sy 45-jarige vrou doodgeskiet. Die polisie het nie hul name bekend gemaak nie, maar die man is na bewering die hoof van die Maria Trost Primary School in die Ugu-distrik. Die motief vir die aanval is nog onbekend.
Kwazi Mshengu, LUR vir onderwys in KwaZulu-Natal, het ’n beroep op die polisie gedoen om die skuldiges te vang deur ’n “versigtige en vinnige ondersoek” sodat hulle verantwoording kan doen.