Misdaad in dele van die Strand blyk so erg te wees dat die polisie die eienaars van spazawinkels gevra het om hul deure eerder teen 21:00 te sluit.
In ’n brief wat die polisie Dinsdag uitgestuur het, word die baie rooftogte en moorde in die gebied as die rede vir hierdie versoek gegee. Die polisie sê die maatreël is vir die veiligheid van die eienaars van die spazas asook vir dié van die gemeenskap.
Kapt. Frederick van Wyk, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het by navraag gesê die stasiebevelvoerder en gemeenskapsleiers het saam maatreëls ingestel om die geweld in die gebied te probeer hokslaan, daarom word winkeleienaars gevra om hul ondernemings saans vroeër as gewoonlik te sluit.