’n Redakteur van die tydskrif Weg! Platteland het verskeie steekwonde opgedoen nadat hy Sondagoggend vroeg inbrekers in sy huis in die Swartland betrap het.
Peter van Noord is in die Mediclinic Durbanville opgeneem nadat hy met ’n mes in die arm, hand en bors gesteek is terwyl hy verbete aan een van die aanvallers, wat deur ’n venster probeer ontsnap het, se bene geklou het.
Johan van Zyl, ook ’n redakteur van Weg! Platteland, het die middag gesê daar is ’n “taamlik goeie kans” dat Van Noord Maandag al ontslaan kan word.