Die planne van ’n driestuks rowers om ’n winkel in Qonce (King William’s Town) te beroof, is lelik in die wiele gery toe ’n transitowag in die winkel een van die rowers doodgeskiet het.
Die drie rowers het Donderdag omstreeks 10:30 die Market Square Jet-winkel in Macleanstraat binnegegaan. Minute later was een van hulle dood en die ander twee het met leë hande gevlug.
Volgens brig. Thembinkosi Kinana, ’n Oos-Kaapse polisiewoordvoerder, het die rowers eers die personeel in die winkel “geterroriseer” en hulle in ’n kantoor aangehou. Die rowers was nie bewus van ’n ander personeellid in ’n ander kantoor wat die polisie ontbied het nie.