’n Veiligheidswag in Noordwes het glo ’n tienerseun nakend aan ’n paal vasgebind en hom aanhoudend geslaan omdat hy van diefstal verdink is.
Mense het die voorval Dinsdag in die Tigane-township by Hartbeesfontein met selfone afgeneem. Die gelag van ander terwyl die seun huil, kan gehoor word. Die video is wyd op sosiale media gedeel.
Volgens brig. Sabata Mogwabone, polisiewoordvoerder in Noordwes, het die 41-jarige vroulike veiligheidswag die seun glo kort voor die voorval R50 gegee om vir haar koeldrank te gaan koop.