Vrystaat Landbou (VL) eis ’n indringende ondersoek na georganiseerde veediefstal in die Ficksburg-gebied, waar die boer Evan Sorour (28) die naweek vermoor is.
Boere en private ondersoekers sê die moord het gebeur teen die agtergrond van die groot probleem met veediefstal en die hantering daarvan. Min word gedoen om die beweerde betrokkenheid van die polisie daarby bloot te lê.
Friedl von Maltitz, visepresident van VL, sê Ficksburg, soos verskeie dorpe langs die Lesotho-grens, gaan al jare gebuk onder hoë vlakke van misdaad, waaronder ernstige geweldsmisdade soos plaasaanvalle en veral veediefstal.