’n Vriend wat glo die naweek tussenbeide getree het in ’n rusie tussen ’n egpaar van Pella in die Noord-Kaap en die man na bewering in die bors geskiet het, is steeds in aanhouding.
Die voorval het Saterdag gebeur toe Dawid Olivier (54), ’n plaaslike boer, gesterf het nadat hy in die bors geskiet is. Aanvanklike inligting het daarop gedui dat ’n familielid aangekeer is, maar die polisie het bevestig dis ’n vriend.
Lt.kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, sê die Olivier-egpaar was glo in ’n stryery betrokke toe Frederick Byrne (53) tussenbeide wou tree. Die rusie het vermoedelik handuit geruk en ’n skoot is afgetrek.