Sy familie weet nie wat daartoe gelei het dat “ ’n vriend” hom doodgesteek het nie, maar met Zanton Basson (17) se afsterwe is soveel van sy familie se drome ook verydel.
Sy ma, Monette Basson (34), sê sy pa het haar op 18 November omstreeks 20:00 gebel om te sê Zanton is na die Melomed-hospitaal in Mitchells Plain geneem nadat hy aangeval is.
Toe sy by die hospitaal aankom, het Zanton, wat volgende jaar die hoofseun van die Rocklands High School sou gewees het, haar hand gegryp en gesê dit was ’n vriend wat hom gesteek het.