’n Vrou is Woensdag in hegtenis geneem vir beweerde belastingbedrog van meer as R17 miljoen wat glo met plundery by Eskom verband hou.
Jacqueline Legoabe, ’n direkteur van Titan E Services (Pty) Ltd, het in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Pretoria verskyn. Sy word verdink van belastingontduiking tussen 2015 en 2020, sê Sindisiwe Seboka, ’n woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se ondersoekdirektoraat.
Legoabe staan tereg op 30 aanklagte van bedrog omdat sy na bewering versuim het om van haar inkomste te verklaar en glo ’n wanvoorstelling gegee het van haar belastingopgawes en dié van Titan E Services.