Bykans die helfte van Gqeberha, ’n stad met meer as 1,5 miljoen inwoners, gaan binne die volgende paar dae nie meer lopende kraanwater hê nie.
Ná sowat ’n dekade se wanbestuur en handjiesvou het “Dag Zero” uiteindelik vir die land se vyfde grootste metro aangebreek, maar politici en amptenare glo steeds dat die katastrofe verhoed kan word “as ons net waterverbruik kan verminder”.
Die kanse daarvoor lyk egter skraal. Ten spyte van die reuse humanitêre krisis oorskry die inwoners van Nelson Mandelabaai (NMB) steeds hul waterkwota met miljoene liters per dag. En dit is nie eens hul skuld nie.