’n “Humanitêre en omgewingsramp” is besig om hom af te speel in Koster, Noordwes, waar inwoners al twee weke nie watertoevoer het nie.
Andreas Peens, prokureur van die aksiegroep Kgetlengrivier Besorgde Inwoners (KBI), het Maandag gesê hy het nog geen reaksie ontvang op ’n skrywe hieroor wat hy verlede Donderdag aan onder andere die minister van water en sanitasie, die departement van samewerkende regering en tradisionele sake en die plaaslike munisipaliteit gestuur het nie.
Die Kgetlengrivier-munisipaliteit bedien Koster, Swartruggens, Derby en die omliggende townships.