Inwoners van Sannieshof in Noordwes is nou al so desperaat vir water dat ’n plaaslike raadslid op Facebook vra dat motoriste wat deur die dorp ry, water daar aflaai.
Soret Cloete-Viljoen, ’n DA-raadslid in die Tswaing-munisipaliteit wat die gebied bedien, sê benewens jare lange probleme met die verskaffing van water in Sannieshof en die omliggende gebiede, is die dorp se krane al sedert 11 Desember droog.
“ ’n Kragopwekker wat vyf van ons 12 boorgate se pompe aandryf, het gebreek weens gebrekkige instandhouding. Sedertdien het net twee van die 12 boorgate gewerk wat Sannieshof, asook die townships Pelhindaba, Agisanang en die informele nedersetting Ditshotshwane bedien.”