’n “Hoflikheidsbesoek” van ’n Russiese afvaardiging aan die Knysna-munisipaliteit om glo ondersoek in te stel na moontlike ekonomiese geleenthede in die gebied, het onder skoot gekom van die DA.
Aleksei Malenko, Russiese konsul-generaal van die konsulaat in Kaapstad, en Alex Bacharef, adjunk-konsul-generaal, het Knysna Maandag besoek en met Aubrey Tsengwa, die burgemeester, vergader.
Die DA in Knysna sê in ’n verklaring die Russe is deur die koalisie van die ANC, PA, PBI (Plaaslike Besorgde Inwoners) en die EFF ontvang. Die besoek was “om te fokus op plaaslike ontwikkeling en ekonomiese geleenthede wat moontlik in die Groter Knysna gekweek kan word”.