Dienslewering in die Sannieshof-omgewing het nou al in so ’n mate in duie gestort dat paddas en muise hulle in munisipale waterpype tuismaak.
Dié grillerige stand van sake het onlangs aan die lig gekom toe kop gekrap is omdat inwoners nie water gehad het nie, al was die reservoir in Sannieshof en waterdam vol, vertel Soret Cloete-Viljoen, DA-raadslid in die Tswaing-munisipaliteit wat die gebied bedien.
“Inwoners het saam met munisipale werkers gaan ondersoek instel en gesien die verstopping was weens paddas en muise wat hulle in ’n waterpyp naby die reservoir tuisgemaak het.”