Nog voor die rooi barette ’n enkele slagspreuk kon skreeu in hul beplande betogings aanstaande week, het die EFF homself reeds ’n boete van meer as R150 000 op die lyf geloop.
Meer as 300 onwettige EFF-plakkate, wat Maandag se #NationalShutdown bemark, is al in die Kaapstad-metro verwyder. Die EFF se rekening staan tans op R154 200, sê JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir sekuriteit en veiligheid, luidens ’n verklaring.
Smith verduidelik die verordening insake buitelugreklame en advertensieborde verbied duidelik die onwettige vertoon van plakkate soos dié wat die EFF oral in die metropool opgeplak het.