Die leuens dat die Johannesburg-metro nie sy lenings kan terugbetaal nie, is niks anders as politieke verdagmakery nie, sê dr. Mpho Phalatse, DA-burgemeester.
Sy het Woensdag voor die metroraadsvergadering ’n mediakonferensie gehou om ’n oorsig te gee van die metro se geldsake.
“Die afgelope jaar kon die metro ’n aansuiweringsbegroting deurvoer, ’n geïntegreerde ontwikkelingsplan vir die volgende vyf jaar aanvaar en het op 1 Julie ’n begroting van R77,3 miljard in werking gestel wat gebruik word om Johannesburg te herstel en op te bou,” het Phalatse gesê.