Die piepklein Tokologo-munisipaliteit in Boshof in die Vrystaat het sy rieme in die hooggeregshof in Bloemfontein styfgeloop oor sy planne om sowat 20 keer meer as wat nodig is te betaal vir ’n nuwe eiendomswaardasielys.
Die hof het ’n tydelike bevel uitgereik teen die deurvoer van die kontrak en sal later volledige betoë aanhoor om te bepaal of dit ’n permanente bevel gemaak moet word.
Die bevel volg nadat Tokologo, wat ook Hertzogville en Deales-ville insluit, vroeër vanjaar ’n tender geadverteer het vir die aanstel van ’n waardeerder om die nuwe waardasielys op te stel wat van 1 Julie volgende jaar sal geld. Só ’n lys vorm die grondslag van die eiendomsbelasting wat eienaars in die daaropvolgende drie jaar betaal en die geldigheid daarvan kan tot vyf jaar verleng word.