Dele van Bethal in Mpumalanga is al nege dae agtereenvolgens sonder water en inwoners sê die Govan Mbeki-munisipaliteit doen nie genoeg om die dorp se waterprobleem op te los nie.
Hulle vra ook dat die munisipaliteit “oop kaarte” met hulle speel oor wat die probleem is.
Donald Green, die munisipaliteit se woordvoerder, het Dinsdag aan Netwerk24 gesê hulle ervaar sedert Desember ’n waterskaarste weens lae vlakke by die Bethal Rand-reservoir.