Rioolvuil wat by ’n gastehuis uitborrel en in strate vloei, asook watertoevoerprobleme is weer ’n werklikheid in Swartruggens en Koster – slegs vyf maande nadat die plaaslike munisipaliteit dienste van die inwoners teruggeneem het.
Die Kgetlengrivier-munisipaliteit bedien dié dorpe en omliggende townships.
Die Kgetlengrivier Besorgde Inwoners (KBI) het die Pionier Dienstemaatskappy in Januarie aangestel om water- en rioolaanlegte in Koster en Swartruggens te bestuur nadat die hooggeregshof in Mmabatho gelas het die KBI mag dié dienste tydelik by die munisipaliteit oorneem. Dít nadat die KBI bewyse ingedien het van hoe dienste al jare verval en rioolvuil in riviere en damme in die omgewing beland.