Wallace McLeod, waarnemende departementshoof van ingenieursdienste van die Mangaung-metro, het werkbare planne wat so spoedig moontlik uitgevoer moet word voordat daar weer nuwe leiers kom.
Só sê die Vryheidsfront Plus ná ’n vergadering met McLeod waarop hulle gehoor het van die departement se plan om 37 voertuie vir die munisipaliteit aan te koop en R20 miljoen beskikbaar te stel vir onderhoud van paaie.
Valerie de Kock, VF Plus-raadslid in die metro, sê in ’n verklaring McLeod het glo ook geld gekry vir die opgradering van rioolwerke in die informele nedersetting Chris Hani en Heidedal, waar rioolprobleme al jare lank ondervind word. Dié geld is uit sy departement toegewys.