Die Mangaung-metro se skuld aan sy waterraad, Bloemwater, sal vandeesweek nog vereffen word, sê adv. Tankiso Mea, stadsbestuurder van die metro.
Die metro skuld Bloemwater die verbruiksrekening van September wat R60 miljoen beloop, plus R22,3 miljoen wat maandeliks as gevolg van ’n afbetalingsooreenkoms betaalbaar is. Dié ooreenkoms is vir die afbetaling van April vanjaar tot Januarie 2019 van agterstallige waterskuld van R268 miljoen.
Mea sê die metro is steeds besig om nog staatsdepartemente en groot sakeondernemings se watertoevoer oor wanbetaling af te sny, sodat hulle die metro kan betaal. Op dié manier kry die metro weer geld in om vir Bloemwater te kan betaal.