As alles volgens plan verloop kan Mosselbaai dalk oor twee jaar elektrisiteit van ’n gas-aanleg op sy drumpel aankoop.
Die Mosselbaai-munisipaliteit sê in ’n verklaring sy burgemeester, Dirk Kotzé, die munisipale bestuur en belangepartye het verlede week met Sandi Ncemane, waarnemende groephoof van PetroSA, vergader oor ’n oplossing vir die dorp se kragkrisis. Dit het gevolg na vorige samesprekings oor PetroSA se voorneme om ’n gasaangedrewe kragaanleg te bou in die stryd teen beurtkrag.
Ncemane sê dat, afhangende van die verkryging van die nodige infrastruktuur soos turbines, die projek binne 18 tot 24 maande gereed kan wees en ’n ekstra 180 MW se krag na die netwerk kan voer.