Die sink van die eerste boorgate om bykomende water vir Kaapstad uit ondergrondse waterbronne in Strandfontein te voorsien vorder goed. Die water behoort teen einde Junie te vloei.
Dit is deel van die Kaapstad-metro se plan om nie weer ’n Dag Zero te beleef soos aan die begin van 2018 toe die watervlak van die stad se opgaardamme so laag was weens die uitgerekte droogte dat die krane byna droog was nie.
Zahid Badroodien, Kaapstad-metro se burgemeesterskomiteelid vir water en sanitasie, sê in ’n verklaring hy het die projek in Strandfontein besoek en daar word goed gevorder met die boorgate en die bou van die nodige ondersteunende infrastruktuur om die water by die verspreidingstelsel van die metro in te pomp.