Die kantoor van die openbare beskermer (OB) in Bloemfontein word oorval met klagtes oor die metro, en as amptenare nie reageer op aanmanings om voor die kantoor te verskyn nie, sal adv. Busisiwe Mkhwebane, die OB, gevra word om in te gryp.
Oupa Segalwe, woordvoerder van die OB se kantoor in Pretoria, sê adv. Erika Cilliers van die OB se kantoor in Bloemfontein kry glo nie die samewerking van adv. Tankiso Mea, stadsbestuurder, en sy bestuurspan nie. Sy het reeds ’n finale aanmaning aan hulle gestuur om voor haar te verskyn.
As hulle versuim, sal Mkhwebane gevra word om hulle te dagvaar om voor die OB se Bloemfonteinse kantoor te verskyn. Sy sal ook gevra word om ’n stelselondersoek na die werkinge van die metro te gelas “sodat die metro voorkomend kan optree en nie net op klagtes reageer nie”.