Die leier van die Patriotic Alliance (PA) wat Maandag tot die burgemeester van die Sentraal-Karoo-distriksmunisipaliteit verkies is, wil die ekonomie laat groei, meer werksgeleenthede skep en teen onwettige immigrante optree.
Gayton McKenzie, leier van die PA en die nuwe burgemeester, is verlede week as raadslid in Laingsburg beëdig nadat hy gesekondeer is om dié munisipaliteit op distriksvlak te verteenwoordig. Hy is Maandag onbestrede tot burgemeester verkies.
Sy verkiesing Maandag is onder meer bygewoon deur Simon (Msyza) Tsatsi, leier van die Dudula-beweging in Alexandra, Gauteng. Die beweging beywer hom vir ekonomiese en werksgeleenthede vir plaaslike inwoners.