Wanneer die meeste mense in die hospitaal opgeneem word, sal hulle ’n siekbrief instuur om van hul pligte verskoon te word totdat hulle weer op die been is.
Maar vir twee raadslede van die Tshwane-metroraad was dit van kardinale belang dat hulle Maandag se raadsitting bywoon. Al is dit uit ’n hospitaalbed.
“My primêre plig is om raadsvergaderings by te woon. Elke raadslid van die koalisieregering se teenwoordigheid was belangrik vir ’n kworum sodat belangrike besluite geneem kan word,” sê Phillip Nel (73), burgemeesterskomiteelid vir nutsdienste en streekbedrywighede. Nel is Saterdag vir ’n gastro-intestinale stromale gewas opgeneem en sterk nog in die hospitaal aan.