Sakelui wat krag van Johannesburg se City Power koop, betaal meer as 80% meer as dié wat direk van Eskom koop. Dit is ondenkbaar en irrasioneel.
Dít was deel van die betoë wat die hooggeregshof in Pretoria die afgelope week gehoor het in ’n dringende aansoek van die sakekamers van Nelson Mandelabaai en Pietermaritzburg om die metodologie wat die energiereguleerder Nersa gebruik om munisipale kragtariewe vas te stel, ongrondwetlik en ongeldig te verklaar.
Nersa stel al sowat ’n dekade lank elke jaar ’n riglyn daar vir munisipaliteite wat aandui met watter persentasie hulle hul tariewe kan verhoog. Daarbenewens word ’n prysband verskaf vir elke gebruikersgroep, byvoorbeeld residensiële en nywerheidsgebruikers, wat as riglyn dien vir ’n munisipaliteit se tariewe vir elke groep.