Die krane in Schweizer-Reneke, Noordwes, is nou al sedert Sondagaand droog terwyl inwoners reeds vir twee weke onder sporadiese krag- en watertoevoerprobleme steier.
In die jongste kommerwekkende verwikkeling van die voortslepende sage het die plaaslike Mamusa-munisipaliteit laat weet die watersuiweringsaanleg word vanaf Donderdag afgeskakel omdat daar nie chemikalieë is om die water te suiwer nie.
Dis boonop onduidelik wanneer daar weer lig (of dan chemikalieë en water) in die tonnel sal wees. Tshepo Bloom, waarnemende munisipale bestuurder van Mamusa, het Donderdag in ’n mediaverklaring gesê Sedibeng Water kan nie chemikalieë aankoop nie omdat die dr. Ruth Segomotsi Mompati-distriksmunisipaliteit wat die gebied bedien, Sedibeng nie betaal het nie.