Munisipale bedrywighede in die Wolmaransstad-omgewing in Noordwes begin (hopelik) stadig maar seker na normaal terugkeer noudat werkers drupsgewys terugkeer werk toe.
Dit is nadat ’n staking van munisipale werkers dienslewering in Wolmaransstad, Leeudoringstad, Makwassie, Witpoort en die omliggende townships byna vier weke verlam het. Die staking het veroorsaak dat munisipale kantore toe was en geen instandhoudingswerk aan onder meer die water- en kragtoevoernetwerk gedoen is nie. Inwoners kon gevolglik nie rybewyse of voertuiglisensies gaan hernu nie, terwyl talle sonder water- en kragtoevoer moes klaarkom. Rioolvuil het in die strate afgeloop en vullis het opgehoop. Bederfbare kos het gevrot omdat vries- en yskaste nie gewerk het nie, vertel Don van Zyl, DA-raadslid in die Maquassi Hills-munisipaliteit, wat die gebied bedien.
Die staking het ook veroorsaak dat amptenare se salarisse die eerste keer in 16 jaar nie op die 25ste van die maand oorbetaal is nie, sê Van Zyl.