Die DA het die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) gevra om die Mantsopa-munisipaliteit te ondersoek oor die rioolvuil wat oral op erwe, deur huise en in strate in Borwa, Tweespruit, loop.
Tim Mpakathe, DA-raadslid in Mantsopa, sê inwoners van wyk 1 in Borwa word blootgestel aan rou rioolvuil. “Dit is ’n gruwelike oortreding van menseregte. Slegs ’n gevoellose regering kan toelaat dat mense in sulke skrikwekkende omstandighede bly.”
Inwoners wat die ergste deur die situasie geraak word, sê dat dit al sedert 2015 so gaan. Hulle het die probleme onder die aandag van die munisipaliteit gebring, maar daar is geen aandag daaraan gegee nie.