’n Museum, die voltooiing van geboue en herstel van stalletjies waar handwerkkunstenaars hul werk kan uitstal en verkoop.
Dís van die planne wat die Noordwes-regering het om die vervalle en verlate erfenisterrein wat vier jaar gelede by Groot-Marico vir oudpres. Jacob Zuma opgerig is, weer lewensvatbaar te maak.
Die terrein en standbeeld ter ere van Zuma wat die provinsiale regering ten minste R1,2 miljoen uit die sak gejaag het, is in 2017 te midde van groot teenkanting van opposisiepartye en burgerregteorganisasies soos AfriForum opgerig. Hulle was veral ontevrede omdat die provinsie toe reeds gesukkel het om net basiese dienste aan inwoners te lewer, maar soveel geld afgestaan is aan die projek om Zuma te vereer.